Gereelde Vrae
Let wel: Hierdie bladsy is vir algemene vrae oor die aflaai van LibreOffice, die lisensie daarvan en hoe die projek werk. Vir tegniese hulp met die sagteware self, sien asseblief ons FAQ op die wiki, en ook ons Ask LibreOffice webwerf.
Ek het geskenk, maar kan steeds nie LibreOffice aflaai nie - waar kan ek dit kry?
Eerstens, baie dankie vir u skenking! Ons waardeer dit baie. Skenkings is heeltemal opsioneel, en u kan LibreOffice altyd gratis aflaai. Vanaf die aflaaibladsy, nadat u op die “Aflaai”-knoppie geklik het, sal u ’n skakel op die volgende bladsy bo die skenkingsboodskap sien, soos volg:
Klik net op die skakel om LibreOffice te begin aflaai. Indien u steeds probleme ondervind, maak asseblief seker dat u blaaier, bedryfstelsel of sekuriteitsagteware nie verhoed dat die aflaai plaasvind nie. U kan ook download@libreoffice.org kontak met u bedryfstelselweergawe, en ons sal vir u ’n direkte skakel stuur.
Waarom is LibreOffice gratis? Is daar ’n haakplek?
LibreOffice is gratis en oopbron sagteware, ontwikkel deur ’n wêreldwye gemeenskap. Jy kan die sagteware gebruik, deel en wysig volgens die Mozilla Public License 2.0. LibreOffice is gratis omdat die gemeenskap rondom dit omgee vir oop standaarde en die afbreek van digitale klowe - wat ’n wêreld skep waar almal toegang het tot kragtige, oopbron-gereedskap.
Kan ek LibreOffice in my besigheid gebruik?
Ja - of dit nou op een rekenaar in jou tuiskantoor is, of 10 000+ rekenaars in ’n onderneming, jy kan LibreOffice gebruik sonder om enige lisensiegelde te betaal. Vir groter implementerings beveel ons sterk aan dat jy professionele ondersteuningsopsies oorweeg, verskaf deur LibreOffice-ontwikkelaars, konsultante en professionele opleiers.
Waarom sluit LibreOffice nie ’n e-pos rekenaarkliënt in nie?
Tans is daar geen planne om ’n e-poskliënt binne LibreOffice te ontwikkel nie, aangesien daar reeds uitstekende gratis en oopbron sagteware e-poskliënte beskikbaar is. Ons fokus eerder op LibreOffice, ons kernproduk, en streef daarna om integrasie met bestaande oplossings beter te maak.
Sal jy ’n sekere kenmerk byvoeg?
Omdat LibreOffice oopbron is en deur ’n gemeenskap ontwikkel word, kies ontwikkelaars watter funksies hulle wil byvoeg, gebaseer op hul eie behoeftes (of die behoeftes van kliënte). As jy regtig ’n sekere nuwe funksie wil sien, oorweeg dit om gesertifiseerde ontwikkelaars te finansier om daardie funksie te implementeer. Alternatiewelik, as jy tegniese vaardighede het, kan jy betrokke raak en saam met die res van die gemeenskap aan nuwe funksies werk. Ons waardeer en sien uit na jou hulp!
Hoe kan ek ’n probleem met LibreOffice rapporteer?
Indien u ’n fout in LibreOffice ontdek het en dit aan ons gehalteversekeringsgemeenskap (QA) wil rapporteer, raadpleeg asseblief die foutopsporing. Wanneer u ’n verslag indien, kyk asseblief of dit die nuutste weergawe van die sagteware raak, en indien wel, verskaf asseblief baie besonderhede in u verslag - bedryfstelselweergawe, presiese stappe om die probleem te reproduseer, en skermskoot(skote) indien nodig. Dankie!
Ek het LibreOffice te koop gesien in ’n winkel of op die internet - is dit van jou?
Waarskynlik nie. LibreOffice is gratis en oopbron sagteware en kan deur ander mense herversprei word, onderhewig aan die lisensie. Maar as jy die amptelike weergawe van The Document Foundation wil hê, moet jy dit altyd van ons webwerf aflaai. Let daarop dat sommige van ons Gesertifiseerde Ontwikkelaars hul eie weergawes van LibreOffice met langtermyn ondersteuningsopsies verskaf.